Die weg!   2017-08-11

... Die Weg ...

 

Hand 9:1 Maar Saulus, wat nog dreiging en moord geblaas het teen die dissipels van die Here, het na die hoëpriester gegaan :2 en van hom briewe gevra aan die sinagoges in Damaskus, sodat as hy mense sou vind wat van die Weg was, manne sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.

 

Ek onthou as kind hoe ek met my fiets gery het op Sondae oggende, wanneer ons nie kerk toe was nie, na die AGS kerk in die dorp. Van 'n afstand af het ek geluister hoe hulle sing!

 

Dit het iets in my hart geroer! Maar ek was streng deur baie mense gewaarsku," jy mag nie naby daardie mense kom nie!" Wat nog gesê was, is dinge soos!

 

"Hulle is 'n sekte! Jy sal nie glo nie, hulle klap hande! Lig hulle hande, praat as die "dominee praat"! Dis 'n gemors 'n deurmekaarspul totale wanorde in hulle dienste! Die Here sê daar sal orde in Sy huis wees! Nee wat almal daar gaan reguit hel toe!"

 

Tog het ek van 'n afstand af geluister! Ek wou so graag ingaan en gaan kyk - maar wat het ek geweet? Ek was kind! Hoe anders sou my lewe nie wees nie! Hoe anders sou ons lewe nie wees nie!

 

Jesus het gesê: " Ek is die Weg en die waarheid en die lewe!" Daar staan geskrywe! Daar is 'n smal Weg en - die wat daarop loop is min! En daar is 'n breë weg, en die wat daarop is - is baie!

 

Kyk om jou - op watter weg is die meeste mense om jou? Wat doen hulle? Hoe lewe hulle? Wat sê hulle oor die minderheid wat hulle lewens verander het? Wie dien nou die Here?